Vers en Klank

40 Episodes
Subscribe

By: RSG

Voorlesings van gedigte, afgewissel met gepaste musiek.

✂️ Clip this podcast
Vers en klank: Stilte
Vers en klank: Stilte episode artwork
Yesterday at 7:20 PM

20 Oktober 2026: Ons leef deesdae in ’n wêreld wat selde stil is. Daar is altyd ’n boodskap, ’n gesprek, ’n enjin, musiek, nuus, ’n skermpie waarop een oor iets klets... Stilte het amper iets geword wat ons moet loop soek. En tog is dit noodsaaklik: ’n ruimte waarin ons kan dink, luister, onthou, verlang – of eenvoudig net wees. Vir party mense is stilte heeltemal te ongemaklik, want dit maak hulle selfbewus, of eensaam, of laat hulle verlang. Sophia van Taak en die voorleser, Karli Heine, verken dié tema.


Vers en klank: Johan Myburg - Steierwerk
Vers en klank: Johan Myburg - Steierwerk episode artwork
10/13/2026

13 Oktober 2026: Die digter Johan Myburg se sesde bundel, Steierwerk, het onlangs verskyn. Sophia van Taak gesels met hom oor dié versameling sonnette. Die gesprek gaan draai ook by die woordeskat waarmee ons oor die liefde praat, die gewigtige stiltes in Gustav Mahler se laaste simfonie en die behaaglike reuk van ’n dennebos.


Vers en klank: Anri Botha en Melanie Grobler
Vers en klank: Anri Botha en Melanie Grobler episode artwork
10/06/2026

6 Oktober 2026: Henriëtta Gryffenberg lees voor uit Anri Botha se bundel, Bakeliet. Sy het in 2018 met die bundel Wolfram gedebuteer. In hierdie nuwe bundel gebruik sy bakeliet – die eerste volledig sintetiese plastiek – as ’n uitgebreide metafoor vir die kunsmatigheid van die moderne bestaan. Henriëtta lees ook verse uit Melanie Grobler se nuutste genaamd Alles van waarde is weerloos. Melanie Grobler skryf vanuit die baie persoonlike ervaring van weduweeskap en verlies. Twee vroue, twee uiteenlopende bundels, twee heeltemal verskillende poëtiese stemme – maar albei skryf sonder ’n beskermende laag. En miskien is dit juis die interessantste raakpunt: hulle albei gebruik poësie om din...


Vers en klank: Vriendskap
Vers en klank: Vriendskap episode artwork
09/29/2026

29 September 2026: “Jou vriend is die vervulling van jou behoeftes. Hy is jou akker wat jy met liefde saai en met danksegging maai. En hy is jou maaltyd en jou vuurherd. Want jy kom na hom as jy honger het en jy soek hom vir vrede.” Só skryf Kahlil Gibran in sy boek, Die Profeet, oor vriendskap. Sophia van Taak en Karli Heine verken dié tema. Daar is gedigte deur – onder andere – Antjie Krog, Helena Ewert, Tom Dreyer en Rocco de Villiers.


Vers en klank: Die expat, Elisabeth Eybers
Vers en klank: Die expat, Elisabeth Eybers episode artwork
09/22/2026

22 September 2026: Hierdie episode is spesifiek vir die expats bedoel – daardie Suid-Afrikaners in die buiteland wat sekerlik van tyd tot tyd wonder: Wat het ek nou eintlik hier kom soek? En: Sal ek ooit régtig kan tuis voel in hierdie land? As daar iemand is wat dié gevoel baie goed geken het, dan was dit die digter Elisabeth Eybers. Sy het vir 46 jaar in Suid-Afrika gewoon en daarna vir óók 46 jaar in Nederland. Kom blaai saam met Joanie Combrink deur Eybers se digbundels wat sy in Nederland geskryf het om uit te vind hoe sy as buitestander haar voete daar in die...


Vers en klank: Koorsboom - Jakes Möller
Vers en klank: Koorsboom - Jakes Möller episode artwork
09/15/2026

15 September 2026: Sophia van Taak en Lochner de Kock blaai deur die debuutbundel, Koorsboom. Dis die pennevrug van Jakes Möller, en ’n verrassend sterk eerste versameling – vol deeglike skryfwerk en eksperimente met vaste digvorme soos die haikoe, villanelle, kwatryn en sonnet.


Vers en klank: Joan Hambidge
Vers en klank: Joan Hambidge episode artwork
09/08/2026

Die digter Joan Hambidge vier op 11e September haar 70ste verjaarsdag. Sophia van Taak hou vir haar ’n partytjie! Die gesprek gaan oor die grootste invloede op Hambidge se skryfwerk, haar gunsteling wêreldstede, wat sy doen wanneer sy saans uitgaan en waarom die Afrikaanse letterkunde met ’n akwarium vergelyk kan word.


Vers en klank: William Rowland
Vers en klank: William Rowland episode artwork
09/01/2026

1 September 2026: Komende Vrydag is dit Loslitdag. Dan kan die mense wat gewoonlik netjies moet aantrek vir werk, ook ’n slag sommer in jeans en tekkies werk toe gaan. Maar dié dag gaan nie eintlik oor net lekker gemaklik aantrek nie – dit is ’n groot bewusmakingsveldtog waarin die behoeftes van mense wat met gestremdhede saamleef, ’n slag weer onder ons almal se aandag gebring word. Eben Genis lees gedigte voor van William Rowland, wat as klein seuntjie sy sig verloor het. Sy blindheid het hom nooit teruggehou nie. Inteendeel, hy was een van Suid-Afrika se grootste kampvegters vir die regte van gestremde


Vers en klank: Danie Marais - Ek is nie Danie
Vers en klank: Danie Marais - Ek is nie Danie episode artwork
08/25/2026

25 Augustus 2026: Daar het onlangs ’n bloemlesing van die digter Danie Marais se werk verskyn. Die gedigte vir hierdie versameling, Ek is nie Danie, is só keurig gekies dat dit amper soos ’n lewensverhaal lees, waar elke gedig voortbou op die vorige. Sophia van Taak gesels met Marais oor sy baie persoonlike skryfstyl. Die gedigte is verhalend en soms humoristies of ironies, maar daaronder lê ernstige vrae oor identiteit, skuld, liefde en waar ’n mens behoort.


Vers en klank: Die skaduwee van siekte
Vers en klank: Die skaduwee van siekte episode artwork
08/18/2026

18 Augustus 2026: Dit is seker een van die moeilikste gedagtes waarmee 'n mens gekonfronteer kan word - dat daar sekere dinge is wat eenvoudig buite jou beheer is. Jy kan byvoorbeeld sommige siektes probeer voorkom deur gesond te eet, meer te oefen en minder te stres. Maar partykeer skuil ’n gróót siekte in jou gene, en maak nie saak wát jy doen nie, dit sal op ’n dag maar net sy verskyning maak. Hierdie soort kwale raak selde net die een wat dit dra. Dit sprei sy skaduwee ook oor geliefdes en vriende. Ons luister na gedigte wat dié rimpels...


Vers en klank: Mediese mankemente
Vers en klank: Mediese mankemente episode artwork
08/11/2026

11 Augustus 2026: ’n Mediese ondersoek is selde net ’n ondersoek van die liggaam. Dit is ook ’n ondersoek van die gees. Dit vra iets van ’n mens se moed, jou geduld en jou vermoë om met onsekerheid saam te leef. Digters het nog altyd hierdie oomblikke probeer vasvang – die weerloosheid van ’n liggaam wat nie meer heeltemal gehoorsaam is nie; die vreemde taal van mediese terme; die menslike behoefte om sin te maak van lyding... Maar hulle skryf ook oor die humor wat, selfs in ’n spreekkamer, kan opduik. Carel Nel en Erica Wessels doen voorlesings van gedigte oor mediese mankemente.


Vers en klank: Lina Spies
Vers en klank: Lina Spies episode artwork
08/04/2026

4 Augustus 2026: ’n Huldigingsbundel ter ere van die digter Lina Spies het onlangs by Naledi Uitgewers verskyn. Sophia van Taak praat met Alwyn Roux, een van die samestellers en redakteurs van ONTHOU IS DIE DAG WAT BREEK, oor Spies se digterlike nalatenskap, en hoe haar stem vandag steeds relevant is, en jong digters daarmee in gesprek tree.


Vers en klank: Sondagblues
Vers en klank: Sondagblues episode artwork
07/28/2026

Daar is seker nie ’n amptelike diagnose soos Sondagblues-sindroom nie, maar dit is tog ’n algemene ding waarmee baie mense sukkel. Daardie spesifieke soort bedruktheid, ’n swaarmoedigheid wat jou op ’n Sondagnamiddag beetpak. Toemaar, jy’s nie alleen nie. Almal van ons wens dit kan eerder weer Saterdag wees – ons digters ook! Eben Genis lees gedigte voor oor Sondae.


Vers en klank: Wilhelm Knobel
Vers en klank: Wilhelm Knobel episode artwork
07/21/2026

21 Julie 2026: Wilhelm Knobel was ’n Sestiger-digter, wie se klein, maar besonder intense oeuvre, die worsteling van ’n hoogs sensitiewe mens met eensaamheid, liefde, geestelike verwarring en die soeke na sin verwoord. Die voorleser, Carel Nel, verken hierdie eenkantmens se introspektiewe, maar baie beeldryke poësie.


Vers en klank: Vuur
Vers en klank: Vuur episode artwork
07/14/2026

14 Julie 2026: Vuur is – saam met lug, water en grond – een van die klassieke elemente. Vuur is ook een van die mensdom se grootste ontdekkings. Dink maar net wat alles deesdae moontlik is omdat ’n oermens op ’n dag dit reggekry het om ’n hopie droë gras te laat vonk vat. En dan is daar ook soveel simboliek aan vuur: Vir party mense verteenwoordig dit kreatiwiteit en hoop; Dit word ook geassosieer met kennis, inspirasie, spirituele reiniging en transformasie. Al hierdie kenmerke van vuur en lig is ter sprake saam met voorleser Erica Wessels.


Vers en klank: SJ Pretorius
Vers en klank: SJ Pretorius episode artwork
07/07/2026

7 Julie 2026: Die digter, SJ Pretorius, was veral bekend vir sy belangstelling in die gepynigde randfigure, die verstotenes in die krotbuurte. Hy’t ’n sagte plekke gehad vir die underdogs, die verskoppelinge. Hy was ook lief daarvoor om met die hoër klasse se maniertjies en oortuigings die draak te steek. Voorleser Johann Nel verken dié digter se deernisvolle skryfwerk oor mense wat nie oor mag of status beskik nie, en maklik misgekyk word.


Vers en klank: Tom Dreyer - BRIEF OP VEERTIGDUISEND VOET
Vers en klank: Tom Dreyer - BRIEF OP VEERTIGDUISEND VOET episode artwork
06/30/2026

30 Junie 2026: Tom Dreyer se tweede digbundel, BRIEF OP VEERTIGDUISEND VOET, het vroeër vanjaar by Queillerie Uitgewers verskyn. Sophia van Taak gesels met hom oor die genot van dieper delf in die wetenskap, om dinge óóp te skryf, ’n boerbok op Bloubergstrand, die vele Nederlandse name vir ’n skoenlapper, en die antieke Persiese Ryk.


Vers en klank: Vrugte
Vers en klank: Vrugte episode artwork
06/23/2026

Vrugte is so ’n alledaagse ding. Daar’s maar altyd ’n paar appels of piesangs of nartjies in die huis. En met dié dat vars produkte van oraloor ingevoer word, kom ’n mens ook nie altyd agter dat vrugte seisoenaal is nie, want daar is altyd iets van alles op die winkelrak. Voorleser Susanne Beyers bekyk allerlei vrugtesoorte ’n slag ordentlik, want vrugte is eintlik wonderlike goed: Die smake, teksture, kleure... die verskeidenheid!


Vers en klank: NP van Wyk Louw – RAKA (Deel 2)
Vers en klank: NP van Wyk Louw – RAKA (Deel 2) episode artwork
06/16/2026

16 Junie 2026: Die digter NP van Wyk Louw is op 11 Junie 1906 gebore, en op 18 Junie 1970 oorlede. Hy was ’n groot gees van die Dertiger-beweging. Met sy groot tegniese vaardigheid, sterk beelde en oorspronklike taalgebruik, het Louw ons letterkunde verryk én as’t ware gemoderniseer. Ons herdenk dié reus van die Afrikaanse letterkunde met sy grootste werk – RAKA. Susanne Beyers en Johann Nel is die voorlesers uit dié aangrypende epos.


Vers en klank: NP van Wyk Louw – RAKA (Deel 1)
Vers en klank: NP van Wyk Louw – RAKA (Deel 1) episode artwork
06/09/2026

9 Junie 2026: Die digter NP van Wyk Louw is op 11 Junie 1906 gebore, en op 18 Junie 1970 oorlede. Hy was ’n groot gees van die Dertiger-beweging. Met sy groot tegniese vaardigheid, sterk beelde en oorspronklike taalgebruik, het Louw ons letterkunde verryk én as’t ware gemoderniseer. Ons herdenk dié reus van die Afrikaanse letterkunde met sy grootste werk – RAKA. Susanne Beyers en Johann Nel is die voorlesers uit dié aangrypende epos.


Vers en klank: Bome
Vers en klank: Bome episode artwork
06/02/2026

2 Junie 2026: Dit is baie gesond vir ’n mens – veral vir jou siel – om gereeld deur ’n woud te stap of vir ’n ruk onder ’n groot boom te sit. Dis gewoonlik lekker koel daar, die lug is skoner en klanke is meer gedemp. Studies het ook al gewys dat die kleur groen jou brein help om van die tamheid van gedurige konsentrasie te herstel. Pieter van Zyl se gedigvoorlesings lei ons na plekke met baie bome. Laat die woudreuse se teenwoordigheid jou lawe.


Vers en klank: Jennifer Pape
Vers en klank: Jennifer Pape episode artwork
05/26/2026

26 Mei 2026: Sophia Kapp praat met Jennifer Pape oor haar eerste digbundel, Waar daar eens ’n see was, wat by Turksvy Uitgewers verskyn het. Met ’n agtergrond in geologie, delf Jennifer graag in die oerverlede en die natuurwetenskappe. Haar skryfstyl is ’n heerlike vermenging van feite en verdigsels, wetenskap en verbeelding.


Vers en klank 19 Mei 2026
Vers en klank 19 Mei 2026 episode artwork
05/19/2026

Luister na gedigte oor hoe besig die brein is. Hoe ons maar altyd besig is om te beplan, te ontleed, te vergelyk, te onderskei, te benoem, te onthou…! Die brein is nooit stil nie. Die digter, T.T. Cloete, het van ’n ‘heilige nuuskierigheid’ gepraat – daardie ding wat maak dat ons nie kan ophou vrae vra oor die wêreld om ons nie. Die voorleser is Nienke Geldenhuys.


Vers en klank 12 Mei 2026
Vers en klank 12 Mei 2026 episode artwork
05/12/2026

Watter mens hou nie van die Karoo nie? Dié dorre binneland roer ons almal om die een of ander rede. Ons vind uit waarom so baie digters verknog is aan die Karoo, selfs aan spesifieke streke of dorpe in die streek. Wilhelm van der Walt is die voorleser.


Vers en klank 5 Mei 2026
Vers en klank 5 Mei 2026 episode artwork
05/05/2026

Sophia van Taak gesels met Anita van der Walt oor haar vyfde digbundel, Die aap kom uit die mou. Hulle bespreek ook verskillende digvorme soos die haikoe, die tanka en die villanelle, en ander elemente wat aan gedigte ’n sekere soort musikaliteit verleen.


Vers en klank 28 April 2026
Vers en klank 28 April 2026 episode artwork
04/28/2026

Op 27 April vier ons Vryheidsdag. Ons luister na gedigte wat vertel van die lang pad wat Suid-Afrika moes stap om by demokrasie uit te kom. Daar is heelwat gedigte deur George Weideman, ’n vers van Adam Small, en dan natuurlik ook van ons politieke kommentator, Antjie Krog. Die voorleser is Pieter van Zyl.


Vers en klank 21 April 2026
Vers en klank 21 April 2026 episode artwork
04/21/2026

22 April is Wêreld Aardedag. Sophia van Taak en die voorleser, Hannah Borthwick, vier dié belangrike, wêreldwye bewaringsinisiatief met gedigte oor die natuur se skoonheid. Daar is ook verse wat ons as mense weer ’n slag herinner aan ons verantwoordelikheid as versorgers van die planeet.


Vers en klank 14 April 2026
Vers en klank 14 April 2026 episode artwork
04/14/2026

Voorleser Schoemé Steenkamp verken die element, lug, of dan nou lug in sy bewegende vorm: wind en asem. Dis iets waaroor ons eintlik gans te min dink – lug wat pal om ons en ook ín ons is. Trouens, daarsonder sou ons nie kon lewe nie! Daar is ’n paar verrassende filosofiese verse oor die wind.


Vers en klank 7 April 2026
Vers en klank 7 April 2026 episode artwork
04/07/2026

Ons ken haar as die sangeres van die destydse televisiereeks, Sonkring, se temalied. Ook as kaberetster wat al die werke van Piaf en Brel meesterlik vertolk het, en as liedjieskrywer en komponis met menige album agter haar naam. Maar nou het Helena Hettema ook begin gedigte skryf! Sy gesels met Sophia van Taak oor haar tweetalige debuutversameling, Journeyman, wat onlangs verskyn het.


Vers en klank 3 April 2026
Vers en klank 3 April 2026 episode artwork
04/03/2026

WEG Louw se reeks van ses sonnette, Die passie van ons Heer, bly sekerlik een van sy grootste bydraes tot die Afrikaanse letterkunde. Dit verskyn in 1944 by Constantia-uitgewers in die bundel, Adam en ander gedigte. Hierdie reeks verse lei ’n mens deur al die gebeure van Goeie Vrydag: van die laaste avondmaal af, na die tuin van Getsemane en die kruise op die koppie, tot by Jesus se begrafnis. Die voorlesers is Henriëtta Gryffenberg en Wilhelm van der Walt.


Vers en klank 31 Maart 2026
Vers en klank 31 Maart 2026 episode artwork
03/31/2026

In sy gedig, Mislukte Doel, vra Ernst van Heerden: “Wat is die lot van soveel woorde?” en “Kan ’n woordpyl ooit die aardekors deurdring?” Hiermee bedoel hy: het die skryf van gedigte dan enige nut? En wáárom hou digters hulle nog hoegenaamd daarmee besig? Vind uit saam met Sophia van Taak en voorleser Nienke Geldenhuys.


Vers en klank 24 Maart 2026
Vers en klank 24 Maart 2026 episode artwork
03/24/2026

Dit was onlangs Wêreld-Poësiedag. Hierdie inisiatief van UNESCO neem elke jaar verskillende gestaltes aan. Dit is natuurlik ’n poging om geletterdheid te bevorder, maar wil ook graag mense inspireer om hulleself met behulp van die digkuns te laat hoor. Sophia van Taak en Hannah Borthwick vier dié dag met voorlesings van gedigte oor, wel, gedigte! Ons hoor waar digters hulle inspirasie vandaan kry, en hoe ’n mens te werk moet gaan om ’n suksesvolle vers neer te pen.


Vers en klank 17 Maart 2026
Vers en klank 17 Maart 2026 episode artwork
03/17/2026

Sophia van Taak en die voorlesers, Schoemé Steenkamp en Wilhelm van der Walt, sit die reeks oor AG Visser voort. Hierdie keer luister ons na van sy grappiger gedigte, asook ’n paar verse wat al volksbesit geword het.


Vers en klank 10 Maart 2026
Vers en klank 10 Maart 2026 episode artwork
03/10/2026

AG Visser word nie soseer gereken as een van ons mees intellektuele digters nie, maar tog is sy werk – ’n volle eeu nadat hy dit geskryf het – steeds gewild. Dink maar aan daardie ballade oor die Ruiter van Skimmelperdpan! Die rede hiervoor is dalk omdat sy poësie so eenvoudig, maklik verstaanbaar en dikwels ook vermaaklik was. Sophia van Taak begin met ’n kort reeks oor dié digter se werk. In die eerste aflewering luister ons na van sy liefdesgedigte en ’n paar kinderverse wat hy geskryf het. Die voorlesers is Wilhelm van der Walt en Schoemé Steenkamp.


Vers en klank 3 Maart 2026
Vers en klank 3 Maart 2026 episode artwork
03/03/2026

Sophia van Taak en die voorleser Julia Marone vier die volmaan met voorlesings van gedigte oor die maan.


Vers en klank 24 Februarie 2026
Vers en klank 24 Februarie 2026 episode artwork
02/24/2026

Die digter en aktivis, Diana Ferrus, is op 30 Januarie 2026 in die ouderdom van 72 jaar oorlede. Sophia van Taak en Lee-Ann van Rooy bring hulde aan dié geliefde figuur met gedigte uit beide haar bundels – ONS KOMVANDAAN en DIE VREDE KOM LATER.


Vers en klank 17 Februarie 2026
Vers en klank 17 Februarie 2026 episode artwork
02/17/2026

Sophia Kaap gesels met Dietloff van der Berg, wie se eerste digbundel, Feesmaalgang, onlangs verskyn het. Dietloff het ook ’n paar jaar gelede die liefdesverse en aanhalings van die Persiese digter, Rumi, na Afrikaans vertaal. Hy vertel hoe ’n mens só ’n reusetaak benader.


Vers en klank 10 Februarie 2026
Vers en klank 10 Februarie 2026 episode artwork
02/10/2026

Rosa Keet vier op die 10de Februarie haar 81ste verjaarsdag. Sophia Kapp en Henriëtta Gryffenberg hou vir Rosa ’n partytjie met voorlesings uit haar vyf digbundels. Henriëtta vertel ook hoe Rosa haar as jong draaiboekskrywer onder haar vlerk geneem het. Rosa is ’n groot gees, wat nie net ’n bydrae tot die digkuns gelewer het nie, maar ook haar merk in die Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf gelaat het.


Vers en klank 3 Februarie 2026
Vers en klank 3 Februarie 2026 episode artwork
02/03/2026

Jana Kruger neem ons diep die berge in. Ons skep asem en maak kop skoon met gedigte deur Antjie Krog, Breyten Breytenbach, Barend Toerien en nog vele ander.


Vers en klank 27 Januarie 2026
Vers en klank 27 Januarie 2026 episode artwork
01/27/2026

Anrich Herbst en Nicole Holm sit die reeks oor Wilma Stockenström voort. Die uitgewer Naledi het inm 2025 ’n digbundel ter ere van dié 92-jarige digter gepubliseer, waarin ’n stuk of 25 digters verse vir haar geskryf het. Elkeen hierdie gedigte is geskoei op oorspronklike Stockenström-verse. Vat saam die spoor deur dié befaamde digter se werk, én hoor hoe ons jonger digters daarop gereageer het.